Gotogreta

Ek het nog altyd gewens om waarhede te skryf. Nie dagstukkies nie (oooGONNAnee!), maar VRY skrywery. Vry nie soos in HYG nie (ok, dit OOK ), maar my gedagtes deel met vroue wat VRY IS van voorgeskrewe konvensie en voorskriftelikheid.  

Daardie BLOGbus gemis. Was te besig om ingewikkeld (hoe anders?) te skei, geworstel met groot duur kinders, myself te tugtig oor eie sondigheid en aandadigheid oor die mislukkings van die lewe. En hier kom hierdie lekkerte om ‘n gereelde paar woorde te deel. HIER!  

Behalwe vir die “lewensdroom” om dalk eeeendag ook begeerlike name vir naelpolitoer uit te dink (my tone is op die oomblik volkleur met “tickle my keys”, “a tribe called cool”, “mint of spring”..), wil ek regtig ‘n verskil maak in mense se lewens. En hoe beter as om uit eie ondervinding raad uit te deel op aanvraag. 

In Ekonomie praat hulle van aanbod en aanvraag, en ek weet al dat veral raad in oorvloed aangebied word, en nie altyd in aanvraag is nie. Hier is nou jou uitnodiging om asseblief vrae te vra en dalk raad/antwoorde te kry.

Wat gee my die reg om so vrypostig te dink mense gaan val vir my skewe blik op die lewe se oplossings? Dalk omdat ek voluit gelukkig is met wie ek is, wat ek het en hoe ek die lewe aanpak. Die pad gestap het (nie altyd alleen nie my Lam – Amanda Strydom se lied), maar met en sonder lovers, reise, geld, opwinding en donker dieptes van verwerping, onsekerheid en wens-ek-was-liewer-dood. Gelukkig, die grootste hiervan is die liewer. 

Soos in die fliek (een van die bestes van my lewe) Avatar, sê hulle in Navi: “I see you”, dan vat hulle hulleself so aan die hart. Ons weet wat dit beteken: ek erken jou, ek SIEN jou met my hart, ek sien jou sonder oordeel… 

En hiermee nooi ek JOU om jouself asseblief ook voor te stel hier. Onbevange. Soos ek nou gaan probeer.

Wanneer iemand my vra: “Wie is jy?”, is ek nie my besigheidskaartjies, kwalifikasies of blyplek of voertuigmodel nie. Ek vat aan my hart. Wie is ek in my hart, daar waar almal kan “I see you” sonder dat ek noodwendig wys. 

Honde-ma van ‘n pragtige, egogedrewe Weimaraner. Ouma van kinders oorsee. Ma van kinders oorsee. Ma van ‘n lieflike kind hier. Reddingsboei. Enigste kind van ‘n bejaarde moeder. Vriendin. Nuwe beroep begin op 61 en uitgelate dankbaar elke sekonde daarvan. Bemark en bou besighede. Groot begeerte om “iets” agter te laat wanneer my asem ophou en daarom skryf en teken en verf ek. Lewensafrigter, meditasie-teacher, oorwinnaar. Niks is of was maklik nie. 

Praat asseblief met my. Kom ons noem jou uitnodiging sommer: GoToGreta!  

Jy is Welkom!  
E-pos vir Greta

Your Cart
Your cart is currently empty